Gabriël Was nie ‘n Trinitariër nie: Die Bybelse Seun van God Herontdek
K |
erkgangers van alle agtergronde spreek soms hul kommer uit oor die onenigheid onder Christene. Die huidige Ekumeniese beweging poog om die hedendaagse verdeeldheid en spanning onder denominasies te neutraliseer deur leringe van die Christelike godsdiens te bevorder waarmee alle gelowiges saamstem. Die vraag is, Is so ‘n weergawe van geloof, naamlik, die mees fundamentele leerstellings wat almal mee saamstem, ‘n weerkaatsing van die “geloof wat eenmaal aan die heilges oorgelewer is” (Judas 3)*, wat Judas opgemerk het selfs in die eerste eeu verlore begin raak het?
As kerkgangers op soek is na ‘n gemeenskaplike ontmoetingspunt vir verskillende denominasies, waarom dink hulle nie ernstig na oor die bekende woorde wat Gabriël aan Maria oorgedra het nie? Wanneer engele praat is hulle kortliks en logies. Elke woord moet noukeurig ontleed word, en elke greintjie inligting daaruit getrek word. In antwoord op Maria se beswaar dat sy steeds ongetroud was, het Gabriël verklaar, “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook (Gr., dio kai) sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word.” (Lukas 1:35).
Ek stel voor dat hierdie Christologiese stelling deur die engel Gabriël as grondslag gebruik word om te bepaal wie Jesus is. Dit moet beskou word as ‘n wekroep tot eenheid, ‘n vergaderpunt vir verdeelde Christendom. Is hierdie nie ‘n uitstekende manier om Christene na hul eerste-eeuse herkoms te laat terugkeer nie?
Die boodskap is eenvoudig en duidelik. Die Seun van God in Gabriël se aankondiging is niemand anders nie as ‘n Goddelik-verwekte Seun van God, wat in aansyn gebring word – verwek word – as Seun in sy moeder se skoot. Enige ander aanspraakmakers op goddelike Seunskap en Messiasskap kan met sekerheid verwerp word. ‘n “Seun van God” wat die natuurlike seun van Josef was, kon nie, volgens Gabriël, die Messias gewees het nie. So iemand sou nie voldoen het aan die vereistes om ‘n Seun te wees op grond van ‘n unieke goddelike intreding van die biologiese ketting nie. Nog ‘n versuim om ‘n Seun van God te wees – volgens Gabriël se definisie – is ‘n seun wat ‘n voor-menslike bestaan gehad het. So ‘n seun sou beslis nie ooreengestem het met die Messias wat Gabriël aangekondig het nie, want sy bestaan was danksy ‘n geskiedkundige skeppingsdaad deur die Vader.
Gabriël se aankondiging behels nie ‘n Seun van God wat van een staat na ‘n ander oorgegaan het nie. Hy verklaar eerder die wonderdadige oorsprong en begin van die Messias. (vergelyk Matt. 1:18, 20: die geboorte [Grieks, genesis] van Jesus Christus, wat as die Seun van die Allerhoogste verwek is [Grieks, genesis].) Die onlangser begrip van die Inkarnasie van ‘n “ewige Seun” met ‘n voor-menslike bestaan kan nie versoen word met die beeld wat Gabriël skets nie. ‘n Persoon met ‘n voor-menslike bestaan wat besluit om ‘n mens te word, moet homself fisies verklein, of inkrimp, sodat hy die vorm van ‘n mense-embrio kan aanneem. Maar so iemand is dan nie verwek in die baarmoeder van ‘n vrou nie; hy gaan bloot deur die baarmoeder deurdat hy ‘n nuwe vorm van bestaan aanneem.
Verwekking is die stadium wanneer ‘n persoon in aansyn kom; ‘n persoon wat nie voorheen bestaan het nie! Dit is so ‘n persoon, een wat nie voor-menslik bestaan het nie, wat Gabriël in die heilige geskrifte bekendstel wat vandag tot ons beskikking is. Hierdie Seun van God, volgens die Skrif en nie latere kerk-tradisie nie, is die Seun van God wat ‘n geskiedenis in tyd het, nie in ewigheid nie.
Ná sy wonderlike belofte dat die Messias die saad van Eva sou wees (Gen. 3:15), asook ‘n profeet soos Moses wat in Israel sou opstaan (Deut. 18:15-19) en ‘n afstammeling in die geslagslyn van Dawid sou wees (2 Sam. 7:14), het God in ‘n wonderdadige geskiedkundige oomblik die geskiedenis van sy unieke Seun laat begin. Hierdie was ‘n Seun deur wie God uitdruklik nie in vervloë tye gepraat het nie (Heb. 1:1, 2). Inderdaad so, aangesien daardie beloofde Seun toe nog nie bestaan het nie!
Slegs ‘n paar bladsye verder voer Lukas die geslagslyn van Jesus, die Seun van God, terug tot by Adam wat ook Seun van God genoem word (Lukas 3:38). Die ooreenkoms is treffend en geweldig betekenisvol. Net soos God verorden het dat Adam uit die stof as Seun van God geskep word, het Hy ook mettertyd in die baarmoeder van ‘n vrou die een geskep wat wonderdadig as die Seun van God verwek is. Daar word afbreuk aan die duidelike bewyse gedoen as daar gemeen word dat die Seun van God nie sy oorsprong by Maria gehad het nie, maar as ewige Gees bestaan het. Die Seun word as’t ware verontmenslik en bloot uitgebeeld as ‘n hemelse besoeker wat as ‘n mens vermom was.
Lukas stel Jesus bekend as die Seun van God wie se verwantskap met God ooreenstem met dié van Adam (Lukas 3:38). Die noukeurige Bybelleser sal daaraan herinner word dat Israel, sowel as die Dawidiese konings, Seuns van God genoem word (Ex.4:22, Hos. 11:1; Ps. 2). Soos eertydse Israel, gaan ook Jesus, die Seun van God, deur die water wanneer hy sy geestelike loopbaan begin (Lukas 3:21; sien Exod. 14, 15). Anders as Israel wat in die woestyn gesondig het, het Jesus homself getrou bewys selfs onder versoeking (Exod. 14-17; 32-34; Num. 11).
Die verhaal verloor sy impak wanneer ‘n ander dimensie daarby gevoeg word, naamlik dat die Seun van God reeds ‘n voor-menslike bestaan gehad het as deel van ‘n ewige Drie-eenheid. Gabriël het die aard van Jesus se Seunskap noukeurig gedefinieer, en behalwe vir die bo-natuurlike verwekking in Maria sluit sy woorde enige ander oorsprong van sy bestaan uit.
Volgens Gabriël het Jesus, die Seun van God – die Bybelse Seun – sy oorsprong in Maria. Hy word wonderdadig verwek en gebore. In voor-menslike-bestaan-Christologie, die mees kardinale deel van die Drie-eenheidsleer, is die verwekking in Maria se baarmoeder nie die begin van die Seun se bestaan nie. Volgens Gabriël is dit. Gabriël en Lukas kon daarom hoegenaamd nie Trinitariërs gewees het nie.
Wat belangrik is, is nie eeue-lange komplekse wroegings met woorde nie, maar geloof in die engele-aankondiging: ‘Juis daarom (dio kai) – die skeppingswonder van God deur goddelike krag – sal die kind God se Seun genoem word.’ Om geen ander rede nie, slegs om dié rede. (Die afgewaterde weergawe in die NIV is opmerkingswaardig, “so sal die heilige wat gebore word die Seun van God genoem word.”)
Jesus, die Seun van God is “die Seun van die Allerhoogste” (Lukas 1:32; 8:28). Christene word ook hierdie titel, “seuns van die Allerhoogste” gegee (Lukas 6:35; sien Ps. 82:6). Jesus se koninklike Seunskap word na aanleiding van sy wonderdadige verwekking verkry, terwyl dié van Christene uit hul wedergeboorte spruit.
Sentraal tot ‘n nuwe Ekumeniese beweging word die eenvoudige waarheid omtrent die identiteit en aard van die Christelike geloof se hooffiguur ondersteun deur baie geleerdes wat besef – anders as die ná-Bybelse geloofsbelydenisse – dat nóg Lukas nóg Mattheus enigsins in ‘n ewige Seun van God met ‘n voor-menslike bestaan geglo het. Raymond Brown se meesterlike hantering van die geboorte-narratiewe in sy Birth of the Messiah maak die feit duidelik dat nie Mattheus of Lukas in die Inkarnasie van ‘n voor-menslike, pre-historiese Seun geglo het nie.
In sy kommentaar op Lukas 1:35 se “daarom ook”, sê Raymond Brown, “van die nege keer wat dio kai in die Nuwe Testament gebruik word, kom dit drie keer in Lukas/Handelinge voor. Dit behels ‘n sekere oorsaaklikheid, en Lyonnet (in sy L’Annonciation, 61.1) toon dat dit baie ortodokse teoloë al in die verleentheid gestel het, aangesien ‘n verwekking deur heilige gees in die baarmoeder van Maria in voor-menslike-bestaan-Christologie nie God se Seun in aansyn bring nie. Lukas is blykbaar onbewus van so ‘n Christologie; verwekking hou verband met Jesus se oorsprong en sy goddelike Seunskap…En daarom kan ek nie daardie teoloë navolg deur die oorsaaklike konnotasie in ‘daarom ook’, waarmee die reël begin, te vermy nie; en te meen dat die verwekking van die kind volgens Lukas nie die Seun van God in aansyn bring nie.” Raymond Brown hou vol dat ons volgens Lukas ‘te doen het met die verwekking van God se Seun in die baarmoeder van Maria deur God se skeppingsgees.’[1]
“Ortodoksie” wat deur latere Kerk-Konsilieë geformuleer is, gooi ‘n dowe oor vir Gabriël se definisie van die Seun van God. Dit is ‘n weerspreking van Gabriël se aankondiging deur te ontken dat Jesus se verwekking hom as Seun van God in aansyn gebring het.
Hierdie is ‘n ernstige kwessie. Is die Jesus van die geloofsbelydenisse, die Jesus onder wie se vaandel kerke vergader, werklik die regmatige, geskape Seun van Lukas 1:35 en Mattheus 1:18, 20?
Brown se breedvoerige werk op die geboorte-narratiewe toon weereens vir ons die belangrike feit dat die Jesus van die Evangelies heel anders is as die “ewig-verwekte” Seun van latere geloofsbelydenisse:
“Mattheus en Lukas voer die kwessie van Jesus se identiteit terug na Jesus se verwekking. In die kommentaar sal ek beklemtoon dat Mattheus en Lukas geen kennis dra van ‘n voor-menslike bestaan nie; dit blyk te wees dat die verwekking van Jesus vir hulle die voortbrengs van God se Seun was (p. 31).
“Die feit dat Mattheus van Jesus kan praat as ‘verwek’ (passief vir gennan) dui daarop dat Jesus se geboorte met sy werking deur heilige gees die gebeurtenis was waar Jesus God se Seun geword het. [In Mattheus en Lukas se ‘verwekkings-Christologie’] word Jesus as God se Seun voortgebring deur God se skeppingsdaad met die verwekking van Jesus…Daar is geen aanduiding van ‘n Inkarnasie waardeur ‘n figuur wat voorheen by God was vlees aanneem nie. Vir voor-menslike-bestaan-Christologie [Inkarnasie], is die geboorte van Jesus die begin van sy aardse loopbaan, en nie die verwekking van God se Seun nie. Die maagdelike geboorte was [later] nie meer gesien as die geboorte van God se Seun nie, maar as die inkarnasie van Sy Seun, en dit het die ortodokse Christelike leer geword. Hierdie denkproses was moontlik alreeds aan die werk aan die begin van die tweede eeu.” (pp. 140-142).
Glo ons werklik die Bybeverslag, of het die tradisionele leer dit moeilik gemaak om na die Skrifteks te luister sonder die steurende klanke van latere oorlewering? Daar bestaan ‘n voortdurende gevaar vir ons as gelowiges, naamlik dat die woorde van die Bybel verdring word deur die oorheersende en soms bedreigende leringe deur geestelikes – leringe wat gewoonlik nie ondersoek word nie. Ons begrip van die aard van die Redder word in gedrang gebring. Is hy werklik ‘n mens, of het hy eindelose jare van bewuste bestaan geniet voordat hy besluit het om ‘n mens te word? Is die laasgenoemde beeld enigsins minder as ‘n legendariese toevoeging tot die Apostoliese geloof?
Die Seun van God, Messias en Redder, word in duidelike teologiese terme deur Gabriël gedefinieer deurdat dit die grondslag lê vir die hele Nuwe Testamanent, en ook Ou-Testamentiese beloftes vervul. Rondom hierdie beeld van Jesus, geskets deur Gabriël, behoort Christene te verenig. Op grond van een vereiste is Jesus die Seun van God, naamlik sy wonderdadige verwekking in Maria se baarmoeder. Hierdie was ‘n skeppingsdaad deur God, waarin Hy sy nuwe skepping voortbring en die model vir Christelike Seunskap aan ons almal voorsien. Alhoewel ons nie soos Jesus wonderdadig in aansyn gebring word nie, kan ons nietemin soos hy ‘n wonderdadige geestelike geboorte ontvang deur wedergebore te word danksy die boodskap van die Evangelie (Gal. 3:2; Efe. 1:13, 14; Rom. 10:17; Matt. 13:19; Lukas 8:11, 12; 1 Pet. 1:23-25; Jak. 1:18).
Die “goddelike” natuur van Jesus word slegs gebaseer op die ongelooflike wonderwerk wat aan Maria en die mensdom geskenk is. ‘n Jesus wat om enige ander rede beweer dat hy God se Seun is, moet verwerp word. ‘n Natuurlike seun van Josef kan nie kwalifiseer as Messias nie, ook nie ‘n persoon wat nie in Maria se baarmoeder deur ‘n goddelike skeppingswonder in aansyn gebring is nie.
Die verklaring dat Jesus die Seun van God is, is gegrond op die buitengewone boodskap van Gabriël in Lukas 1:35. Hierdie definisie van die Messias, Seun van God moet vasstaan. Eers later het ná-Bybelse tradisie die duidelike stelling van Gabriël verdring. So gou as Jesus in ‘n voor-menslike Seun van God verander is wat een bewuste bestaan vir ‘n volgende verruil het, het die Christelike leer problematies begin word (soos getuig deur eeue-lange getwis, eks-kommunikasie, en ongenaakbare dogmatiese beslissings deur Kerk-Konsilieë). ‘n Seun van God wat voor sy verwekking in Maria reeds God se Seun was, is in wese nie mens nie. Volgens só ‘n hersiende weergawe was dit glad nie die Seun van God wat in Maria voortgebring is nie, maar bloot menslike natuur wat aan ‘n reeds-bestaande Persoon gegee is. Tog beskryf Gabriël die skepping van God se Seun self en nie die skepping van menslike natuur wat aan ‘n reeds-bestaande Seun gegee word nie. Die twee leringe is merkbaar verskillend.
Party mag dalk teenkap en sê dat Johannes 1:1ff (“in die begin was die Woord…”) ‘n tweede Persoon aan ons bekendstel wat voor sy aardse verwekking al bestaan het. As dit so was, sou Johannes beslis Lukas en Matteus weerspreek het. Jesus kom volgens Mattheus en Lukas in aansyn as Seun van God, nie in ewigheid nie, maar ses maande ná sy neef Johannes die Doper se geboorte.
Johannes kon nie vir Lukas en Mattheus weerspreek het nie. Die oplossing sal wees om Johannes met Lukas te versoen, terwyl ons Lukas se verslag as verwysingspunt gebruik. Wat Johannes nie geskryf het nie was, “In die begin was die Seun van God.” Maar eerder “In die begin was die woord” (woord, nie Woord nie). Logos in Grieks is nie die beskrywing van ‘n persoon voor sy geboorte as Seun nie. Dit is eerder die Ware God se betoning van sy eie wysheid en verstand. Logos dra die betekenis van plan of belofte. Daar was beslis ‘n belofte van ‘n Seun aan die begin. Ook was die Seun steeds die onderwerp in die belofte in 2 Samuel 7:14. Dawid het nie gedink dat die beloofde Seun van God (“My Seun” Tanakh), Dawid se afstammeling, alreeds bestaan het nie! Daardie Seun sou eerder mettertyd verwek word. Hy sou “verhef” (Tanakh) word – of op die toneel van mensegeskiedenis verskyn – toe Maria aan hom geboorte geskenk het. In Handelinge 13:33 word die reël, “vandag het ek U gegenereer” (Ps. 2:7) op die Seun se oorsprong by sy moeder toegepas.
F.F. Bruce stem met ons saam: God het Jesus “opgehef in die sin wat hy Dawid opgehef het (Handelinge 13:22, vergelyk 3:22, 7:37). Die belofte van Handelinge 13:23, waarvan die vervulling hier [in v. 33] beskryf word, verwys na die Messias se sending, nie sy opstanding wat in vers 34 beskryf word nie.” (Acts of the Apostles, Greek Text with Introduction and Commentary, p. 269).
Die woord, plan of belofte wat in die begin bestaan het was ook “by God”. In die Wysheid-geskrifte van die Bybel word sekere dinge beskryf as “by God” terwyl hulle as verordeninge en beloftes in sy Goddelike Plan bestaan het. (Job 27:13; 10:13; 23:14). Wysheid is ook in die begin “by God” (Spr. 8:22, 30), maar sy was nie ‘n persoon nie. Ook was die logos nie ‘n persoon nie, maar eerder ‘n belofte en ‘n plan. So nou verbind met God was Sy woord, dat Johannes kon sê dat ‘die woord God was.’ Die woord was die skeppingsvoorneme van God; in belofte asook later in werklikheid. Daardie skeppingswerklikheid van God het eindelik as die Seun van God te voorskyn gekom, gebore uit Maria, die unieke Seun (monogenes).
‘n Paar ongeslaagde pogings is al aangewend om die evangelie van Johannes te dwing om nie net die duidelike Christologie van Mattheus en Lukas te weerspreek nie, maar ook om dit met latere Kerk-Konsilieë te laat ooreenstem. Daar behoort geen hoofletter in “woord” in Johannes 1:1, a, b, en c te wees nie. Die teks, weergegee as “Alle dinge is deur Hom gemaak,” is ook ongegrond. So ‘n weergawe gee die verkeerde indruk, naamlik dat die woord ‘n tweede goddelike Persoon was, eerder as die wysheid en belofte van God. Die agt Engelse vertalings wat voor die King James-Vertaling direk uit Grieks oorgesit is, lees nie “Alle dinge is deur Hom gemaak” nie. Eerder dat ‘alle dinge deur dit [of, daardeur] gemaak is,’ ‘n veel natuurliker manier om na die woord van God te verwys. Die Geneva Bible van 1602 lees dus: “Alle dinge was daardeur gemaak, en daarsonder was niks gemaak wat gemaak is nie.” Niemand wat daardie woorde lees sal dink dat die Seun voor sy geboorte bestaan het nie. Ook sal geeneen die idee kry dat Johannes se bekendstelling van die Seun van die een verskil wat deur Gabriël in Lukas geskets word nie.
Sedert die tweede eeu het Christelike tradisie onderneem om die Bybelse verhaal te verdoesel, waarin Jesus se Messiaanse Seunskap en menswees vervaag het. Toe die Seun eers ‘n voor-menslike bestaan gegee is, gelyk in ewigheid en wese as sy Vader, was die eenheid van God bedreig, en is monoteïsme prysgegee, selfs al was elke poging aangewend om dit te verhoed deur vol te hou dat God steeds een is, alhoewel nie meer een Persoon, die Vader nie, maar een “Wese” wat uit meer as een Persoon bestaan. Dit was tog ‘n gevaarlike skuif in die rigting van Griekse filosofie waarmee die Hebreeuse teologie en belydenisse van die Nuwe Testament onbekend was (vergelyk Johannes 17:3; 5:44; Markus 12:28ff).
Onder hierdie hersiende leer oor God het dit nodig geword om verskeie ander “aanpassings” te maak. In sekere tekste is ander betekenisse tot Johannes se woorde gevoeg. Hierdie tendens word goed gedemonstreer in Johannes 13:3, 16:28 en 20:17 in die New International Version. In geeneen van hierdie gedeeltes het die oorspronklike teks gesê dat Jesus na God sou terugkeer nie. In die eersgenoemde twee tekste het Jesus sy voorneme uitgespreek om “na die Vader” te gaan, en in laasgenoemde om na sy Vader “op te vaar.” Die NIV het die verhaal gewysing deur te vertel dat Jesus sou terugkeer na God. ‘n Seun wat in die moederskoot in aansyn gekom het kan nie na die Vader terugkeer nie, aangesien hy nooit voorheen by die Vader was nie.
In Johannes 17:5 praat Jesus van die heerlikheid wat hy “gehad” het voor die grondlegging van die wêreld. Maar in dieselfde konteks (verse 22 en 24) was dieselfde heerlikheid reeds aan sy dissipels “gegee” wat ook nog nie gebore was in die tyd wat Jesus na verwys het nie. Dus is dit duidelik dat die heerlikheid wat beide Jesus en sy dissipels “gehad” het, heerlikheid in belofte of vooruitsig was. Jesus bid daarom dat God hom by sy hemelvaart die heerlikheid sal toebedeel wat God voor die grondlegging van die wêreld bepaal het om vir hom te gee. Johannes praat in Joodse taal van ‘n voor-menslike Voorneme, nie ‘n voor-menslike tweede Persoon nie. H.H. Wendt, ‘n uitstaande Lutheraanse Nuwe Testament-professor het hierdie punt goed uitgedruk in The System of Christian Teaching, 1907:
“Dit is duidelik dat Johannes 8:58 [‘Voordat Abraham was, is Ek’] en 17:5 nie van die werklike voor-menslike bestaan van Christus praat nie. Ons moet hierdie tekste nie afsonderlik lees nie, maar hulle in konteks verstaan.
“Wat aanleiding gegee het tot die woorde in Johannes 8:58, ‘Voordat Abraham gebore was, Ek Is’, was die feit dat Jesus se opponente sy opmerking in v. 51 teëgestaan het, deur te sê dat Jesus nie groter as Abraham of die profete was nie (v. 52). As die aangestelde Messias het Jesus geweet dat hy inderdaad verhewe was bo Abraham sowel as die profete. Om hierdie rede antwoord hy (volgens sy bykomende stelling in v. 54ff) dat Abraham ‘sy dag gesien het,’ d.w.s., Jesus se betreding van sy bediening, en ‘was hy verheug’ om daardie dag te sien. Jesus versterk sy rede met die stelling – een wat vreemd geklink het vir die Jode – dat hy selfs ‘voor Abraham’ bestaan het (v. 58). Hierdie laasgenoemde woorde moet met v. 56 in verband gebring word. Jesus se woorde in verse 55, 56 en 58 laat dit blyk asof hy sy bediening op aarde terugvoer tot die tyd van Abraham en selfs vroeër. Die Jode het sy woorde so verstaan en dit verwerp as onsin. Maar Jesus het natuurlik nie (in v. 56) bedoel dat Abraham Jesus se verskyning op aarde letterlik aanskou het nie. Jesus het verwys na Abraham se geestelike voorskou van sy verkyning op aarde, toe Abraham met die geboorte van Isak terselfdertyd die beloofde Messias vooruitgesien het, en hom in die vooruitsig verbly het dat ‘n Grotere Saad (die Messias) ‘n afstammeling van Israel sou wees. Jesus se verwysing na sy bestaan vóór Abraham moet op dieselfde manier verstaan word. Daar word geen skielike voor-menslike hemelse bestaan van die Messias hier gevind nie: daar word weereens duidelik na sy aardse bestaan verwys, en hierdie aardse bestaan is juis die bestaan van die Messias. As sodanig was dit nie net in Abraham se gedagtes nie, maar selfs vroeër was dit die onderwerp van God se voortbestemming en voorkennis. Die soort voor-menslike bestaan wat Jesus in gedagte gehad het was ‘ideaal’ [bestaan in idees en planne]. Met hierdie wete dat hy as Messias van die begin af voorbeskik is, kan Jesus beslis aanvoer dat hy groter as Abraham en die profete was.
“In Johannes 17:5 vra Jesus die Vader om hom nou die hemelse heerlikheid te gee wat hy saam met die Vader gehad het voor die wêreld was. Die gevolgtrekking dat Jesus as ‘n voor-menslike persoon in die hemel bestaan het omdat hy ‘n voor-menslike heerlikheid gehad het, is vergesog. Dit word bewys deur Matt. 6:20 (‘maak vir julle skatte bymekaar in die hemel,’) 25:34 (‘Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die Koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af,’) Kol. 1:5 (‘die hoop wat vir julle weggelê is in die hemele, waarvan julle vroeër gehoor het deur die woord van die waarheid van die Evangelie,’) en 1 Pet. 1:4 (‘’n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons’). Daarom kan ‘n beloning ook beskou word as iets wat voorheen in die hemele bestaan het. So ‘n beloning word vir mense bepaal en word reeds bewaar; om dit uiteindelik aan hulle te skenk. Netso is dit met Jesus se versoek om hemelse heerlikheid. Hy vra nie vir ‘n terugkeer na ‘n vroeëre hemelse toestand nie. Eerder dat God hom nou, aan die einde van sy werk as Messias op aarde (v. 4), die hemelse belonging sal gee – die beloning wat God vir hom in die eindelose verlede reeds bepaal het. Hy weet dat hy as Seun en Messias van altyd af deur sy Vader liefgehad en voorbeskik is (v. 24). Beide Johannes 8:58 en 17:5 handel oor God se voorbeskikking van die Messias” (sien Teaching of Jesus, pp. 453-460).
Let wel: Daar word gesê dat dinge wat bewaar word as planne of voorneme vir die toekoms “met God” of “by God” is. Daarom sê Job vir God in Job 10:13, “Hierdie dinge het U versteek in U hart: Ek weet dat dit met u is” (King James Version). “Hy sal volbring wat oor my besluit is, en baie sulke dinge is daar by hom” (Job 23:14). Die heerlikheid wat Jesus “by God” gehad het was die heerlikheid wat God vir hom beplan het as die vasgestelde beloning vir sy voltooide Messiaanse werk. Die belofte van heerlikheid het by God bestaan, nie Jesus self nie. Let daarop dat hierdie selfde heerlikheid wat Jesus voor vra, reeds vir jou gegee is (vergelyk Johannes 17:22, 24). Dit was aan jou gegee, sowel as aan Jesus wie God voor die gronlegging van die wêreld liefgehad het (v. 24; vergelyk Efe. 1:4). Daarom kan jy sê dat jy nou die heerlikheid het, alhoewel dit die heerlikheid in belofte en vooruitsig is wat verkry gaan word by die Wederkoms. Jesus het dieselfde vooruitsig voor die grondlegging van die wêreld gehad (Johannes 17:5).
Paulus kon sê dat ons nou ‘n nuwe liggaam met God in die hemel “het” (2 Kor. 5:1) – dit wil sê die belofte daarvan, en nie letterlik nie. Ons sal daardie liggaam verkry in die opstanding tydens Christus se wederkoms. Slegs in verwagting en belofte “het” ons nou daardie liggaam (“Ons ‘n gebou het van God…” 2 Kor. 5:1). Ons het dit nog nie werklik nie. God se beloftes was in sulke Joodse taal uitgedruk. Hulle sal in alle sekerheid vervul word.²
* Tensy anders aangedui, word alle teksverwysings uit die Ou Afrikaanse Vertaling van 1953 geneem.
[1] The Birth of the Messiah, London: Geoffrey Chapman, 1977, pp. 291, 312.